Verlede maand
Kerkgroep help armes in nood
Engele: Dié groep se lede gaan nie toelaat dat armoede hulle onderkry nie. Foto’s: KEITH MEYER  ~ 

LAINGSBURG. – Hulle is soldate teen armoede.

Hulle veg sonder gewere, maar deins nie terug om die euwel van armoede aan te durf nie.

Die lede van die Holy Faith Ministries bid nie net nie, hulle staan op en help hulle gemeenskap om armoede die hoof te bied.

Ook is hulle nie die “nuwe generasie kerkleiers” wat net geld in­samel en “dooi­es opwek” nie.

Apostel Johanna Barends verduidelik: “Ons bid, maar ons dóén ook. In hierdie dorpie gaan dit swaar.

“Met behuising wat ’n probleem is, slaan mense maar hokkies op. Dan help ons hulle gratis om dit leefbaar te maak.

Sukkel

“Ons gooi vloere en line die hokkies uit om dit kouebestand te maak.”

Suster Karin de Water voeg by: “Oumense sukkel om wasgoed te was. Dan help ons hulle en ons was die wasgoed self met die hand.

“Ons trap ook die komberse. Ons gee mense hulle waardigheid terug. As ons kan, gee ons ook kos vir mense wat honger ly.”

Past. Karel de Water, die man wat die hokkies reg timmer, sê: “Ek is ook maar ’n timmerman soos dié in die Bybel. Ons help ons naaste waar ons kan.”

Barends voeg by: “Ons self het dit nie breed nie. As ons geld het, kan ons nog meer mense bereik, want die nood daar buite is so groot!”

  • Mense wat dié soldate teen armoede wil help, kan apostel Barends bel by 078 969 7769.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters