Verlede maand
Kees se kind pla boere
Boelie: Plaaswerkers sukkel met ’n bobbejaan wat ’n terror is as hy gesuip is.  ~ _keith meyer

OP ’N plaas buite Calitzdorp is daar ’n kees wat die liedjie “Bobbejaan Klim die Berg om die Boere te Vererg” blykbaar letterlik opgeneem het.

Plaaswerkers beskryf dié haastige en lastige mannetjie-bobbejaan as gewoonweg verwaand en aspris.

Hennie Apools vertel: “Daai jong is so groot soos ’n jong klonkie. Hy breek by ons huise in en al is jy daar, gee hy nie ’n hel om nie.

“Hy is nog uitsoekerig ook. Hy sal sommer die yskas oopmaak en kos uithaal. Verjaag jy hom, wil hy jou bevlieg.”

Maar wat die werkers die kwaadste maak, is dat hy nou plak gevang het om hul drank te steel.

Gesuip

“Die jong steel bottels drank, dan raak hy gesuip. En boeta, dan mag die ander bobbejane nie naby hom kom nie.

“Hy is mos dan die koning van die oerwoud. Hy is soos ’n vark met die ander bobbejane,” vertel Apools.

’n Ander plaaswerker kla: “Ons kry die ding nie gevang nie. Die honde is bang as hy op die werf rondstap. So asof hy daar hoort.

“’n Mens mag mos nie ’n bobbejaan doodmaak nie. Die mense noem hom sommer die ‘boelie-bobjan’. Hy is ’n meester van inbrake.

“En morsig! Hy sal niks daarvan dink om sommer in van die huise te k*k nie!”

Intussen beraam plaaswerkers nou saam planne om te keer dat hy nie meer hul lewens regeer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters