14 dae gelede
Kar stamp klong op skooldag 1
car crash, car accident
Lwando Tembo is op die eerste dag van skool raakgery.  ~ Foto ter illustrasie: iStock

OUDTSHOORN. – ’n Gr.6-leerder moes hier op die eerste dag van skool na ’n hospitaal gerush word nadat ’n kar hom gestamp het.

Lwando Tembo (12) was besig om die pad saam met sy vriende oor te steek toe die kar hom tref.

Een van Lwando se vriende het op die toneel gesê die bestuurder van die betrokke kar was ten tyde van die voorval haastig op pad werk toe.

Inwoners sê dis die tweede voorval waar ’n voertuig ’n kind tref.

’n Sesjarige seuntjie is in Januarie omgery terwyl hy en sy ouboet ’n pad oorgesteek het om winkel toe te gaan.

Dié seuntjie het op die toneel weens sy beserings gesterf.

Lwando het in die jongste geval kopbeserings en be­serings aan sy onderlyf opgedoen.

Jaag

Sy antie Nondie Tembo sê haar nefie het skaars die huis verlaat om sy eerste dag van graad 6 by te woon, toe hy raakgery is.

“Die voorval bekommer my, veral omdat mense so in hul karre jaag.

“Ons makeer meer spoedwalle in die area,” sê sy.

’n Plaaslike inwoner, Tobie Jansen, sê die daaglike rush hour maak dat motoriste voetgangers nie respekteer nie.

“Hierdie pad word baie deur leerders gebruik op pad skool toe. Dit sal baie help as motoriste ook aan ons kinders dink.

“Speeding is gevaarlik en ek glo ook dat spoedwalle die antwoord is,” voeg Jansen by.

Jolene Fisher, ’n gemeenskapswerker, sê die versoeke rondom spoedwalle behoort onder die plaaslike munisipaliteit se aandag gebring te word.

“Ongelukkig het die publiek weens Covid-19 steeds nie toegang tot munisipale geboue nie. Sodra dinge na normaal terugkeer, sal ons definitief skoolpatrollies in ons gebied moet bespreek,” lug Fisher haar mening.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters