13 dae gelede
Kanna-raad gaan wel nog huise bou
daar’s hoop: Planne word tans beraam om die lewensomstandighede van Varkieskloof se inwoners te verbeter. Foto: keith meyer  ~ 

LADISMITH. – Kanna se raad het laas in 2007 huise gebou.

En nou het die huisnood so erg geraak dat inwoners wil vasmaak oor huise.

Maar die raad het dié week in ’n openhartige onderhoud met Son sy behuisingsplan oopgegooi.

Dít kom te midde van die uitbreiding van die nuwe plakkerskamp Varkieskloof, wat met rasse skrede net groter raak en reeds 252 matjoks het.

Die aantal mense op die waglys vir Kannaland beloop 1 216.

Gerrit Hendricks, ’n hokkiebewoner, kla: “Ons het nie eens toiletgeriewe nie.

“Ons hokkies het al hoeveel keer net omgewaai. Wat sê die raad hiervan?”

Reynold Stevens, munisipale bestuurder, verduidelik: “Ons kan nou duisend wooneenhede bou, maar ons groot probleem is infrastruktuur-beperkinge.

“Dit is waterkapasiteit en rioolwerke. So kan waterwese byvoorbeeld nie die nodige fasiliteite beskikbaar stel nie.

“Maar ons kyk in die interim na erge behuisingsnood.”

Wayne Robertson, senior bestuurder: gemeenskapsdienste, voeg by: “Tog het ons ’n beoogde projek wat ons Parmalat 280 noem.

Waglys

“Dit verwys na die beoogde 280 Hop-huise agter en rondom die Parmalat-fabriek.

“ ’n Persoon moet 35 jaar oud wees en reeds drie jaar op die waglys wees.”

Volgens Robertson is die raad ook besig met 78 Gap-huise vir mense met ’n inkomste van R22 000 per maand.

“Dan is daar nog ’n verdere 29 Gap-huise in Septemberstraat wat ge-fast track gaan word.

“Ons kyk ook na die beleid oor agterplaasbewoners.

“Ons het reeds elektrifisering in Varkieskloof gedoen.

“Dit is tans nog ’n nie-amptelike informele gebied.

“Ja, ons weet sanitasie is ’n uitdaging daar en ons werk daaraan.”

Stevens sowel as Robertson het die versekering gegee dat Ladismith se behuisingsnood wel verlig gaan word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters