24 dae gelede
Jong ma se stryd nou amper verby
VERLIG: Nathoma Willemse het haar ma se ID-nommer gekry ná Son se berig.  ~ Keith Meyer

LADISMITH. – Sy is nou nie meer Williams nie, maar Willemse.

Son het laas week berig oor Nathoma Williams se struggle om ’n ID van haar eie te kry. Daarsonder kon haar twee jong kinders ook geen Sassa-kindertoelae kry nie.

Sy kon hulle nie registreer nie omdat sy self nie ’n ID het nie, want haar ma het nooit haar geboorte aangemeld nie. Nathoma het toe na haar ma gesoek.

Verlede week, nadat Son oor die probleem berig het, het sy ’n oproep ontvang wat blydskap én hartseer sou bring.

Nathoma vertel: “Ons het ’n oproep van Ragel, my ma se suster, gekry. Sy het in die koerant gesien ek soek na my ma.

“Ek was so opgewonde. Maar toe moes ek hoor dat my ma al oorlede is. Ek het sommer begin huil. Maar toe hoor ek weer ’n stuk goeie nuus! Ek het nog ’n suster met die naam Amorey!”

Nathoma moes ook hoor dat sy nie Williams is nie, maar Willemse. Haar ma se ID-boekie het haar ma as Willemse aangedui.

“Gelukkig het ek mos nou my ma se ID-nommer.

“Ons gaan sommer dadelik begin aansoek doen vir my ID en ook dan my kinders se geboorte registreer.

“Dan kan hulle ook kwalifiseer vir staatstoelaes.

“Hulle het dit ál die jare ontbeer.”

Nathoma het bygevoeg: “Die Here sal u seën. Ek is julle ewig dankbaar!”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters