2 maande gelede
Jong ma dood toe sy gly, kop kap
Heloïse Pieters FOTO VERSKAF  ~ 

PORTERVILLE. – Sy het groot drome vir haar toekoms gehad, maar haar lewe is in ’n oogwink kortgeknip.

Heloïse Pieters (28) is Sondag kort voor 06:00 dood nadat sy op ’n matjie in haar slaapkamer gegly en met haar kop teen die hoek van ’n tafeltjie geval het.

Haar kop het die tafeltjie teen haar slaap getref. Sy was vermoedelik op pad na die badkamer toe. Sy is dood nog voordat haar familie haar in ’n motor kon laai om hospitaal toe te neem.

Pieters, ’n bekende en geliefde inwoner van die dorp, het in Moorreesburg gewerk, maar sy het ook ’n deeltydse loopbaan as model gevolg.

Pieters se ma, Media “Sunette­” Meyer (53) is gebroke oor haar geliefde dogter se dood.

“Sy was my steunpilaar. Ons het ’n goeie moeder-en- dogter-verhouding gehad.

“Haar dogtertjie gaan haar baie mis. Sy was baie lief vir haar kind.

“Ek gaan my kind baie mis.”

Vriendekring

Die liefde wat Pieters vir haar dogter, Zilcke (8), gehad het, word weerspieël in ’n boodskap wat sy ongeveer 48 uur voor haar dood op Facebook oor haar dogter gepost het. Dit lui: “My hele lewe in een fotokie (sic). I love you Zilcke.”

Een van Pieters se beste vriendinne, Zeenith Julius (29), sê: “Sy was die beste vriend waarvoor ’n mens kon vra. Sy was lief vir mense en vir haar werk.

“Sy was ’n flukse en skoon mens en het sommer onder ’n mens se voete skoongemaak. Sy laat ’n groot vriendekring agter.”

Pieters, die oudste van vier, laat ook haar suster en twee broers agter. Sy word Saterdag vanuit die VG Kerk in Porterville begrawe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
6 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters