Verlede maand
Jeugroman sien in tronk die lig
DOELWIT: Cedric Africa wil die jeug met sy stories inspireer.  ~ Foto Verskaf

AS ’N oudgevangene wil Ced­ric Africa (49) van Oudtshoorn graag ’n verhaal van hoop met die jeug deel.

Hy wil die jeug laat besef elkeen het die potensiaal om bo hul omstandighede uit te styg. Dís hoekom hy sy debuut-jeugroman, Kinders van die Hoorn, geskryf het. Hy hoop dit sal jong mense aanspoor om nie dieselfde foute as hy te maak nie.

Africa is verlede jaar, ná ’n paar jaar in die tronk, vrygelaat. Hy vertel: “Toe ek begin 2016 gevonnis is, het ek myself belowe ek sal daar binne ’n skoon pad loop en uit die moeilikheid bly.

“Ek het kortverhale begin skryf. ’n Bewaarder het eendag van my werk by sy huis gaan lees.

“Hy het my die volgende dag meegedeel hy het my stories baie geniet. Dít het my daai selfvertroue gegee om nog te skryf dat meer mense my stories wou lees.

“Ek het toe besluit om my hand aan ’n jeugroman te waag en deur die genade van die Here het ek dit toe in my tydperk in die tronk voltooi.”

Ná sy vrylating het Africa sy manuskrip aan ’n uitgewer voorgelê en dit is vir publikasie goedgekeur.

Euwels

Africa ’n bekende by Son. Hy het al twee kortverhale, “Met Liefde vir Mamma” en “Bloedgeld” in die Oom Sonnie-rubriek gepubliseer.

Hy sê dit is net die begin. “Deur die boek vat ek die leser op ’n reis deur woonbuurte waar maatskaplike euwels soos armoede, werkloosheid en dwelmmisbruik aan die orde van die dag is.

“Ek hoop die boek sal ’n verskil in ons gemeenskappe help maak.”

Annalize Hills, ’n onafhanklike resensent, skryf: “Kinders van die Hoorn is ’n uitstekende boek. Hier beleef die lesers die seer van die ouers en kry ’n kykie in die wêreld van die uitgeworpene.”

Africa skryf reeds sy volgende boek, Skarrelkind.

Kinders van die Hoorn is op e-boek-platforms en in boekwinkels beskikbaar.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters