2 maande gelede
Inwoners trap dief se oink af
OT LOT: Klein varkies is ’n gunsteling onder veediewe in die woonbuurt.  ~ Foto ter illustrasie: Netwerk24

MOSSELBAAI. – ’n Man is met stokke geslaan en gedwing om veekrale skoon te maak nadat hy op heterdaad betrap is toe hy ’n speenvarkie wou steel.

Die voorval het in die woonbuurt KwaNonqaba gebeur.

Mense wat op pad werk toe was, het die 23-jarige man opgemerk wat die varkie oor sy skouer gedra het.

Maar pleks van ’n homp bacon om na uit te sien, was daar eerder ’n groot pak slae op dié dief se bord.

Die werkers het dadelik die kleinboere in kennis gestel.

Hondehok

Volgens die kleinboere het talle van hul varkies in die afgelope twee maande voete gekry.

Die fyngeboude varkiedief was nog lekker besig om in die rigting van die Barcelona-plakkerskamp te stap toe lede van die gemeenskap hom corner.

Die dief het by mense se jaart ingehol en hom in die hondehok gaan wegsteek.

Hulle het hom egter daar uitgesleep en met vuiste en stokke saggemaak. Toe sê die kleinboere hom boonop aan om hul sewe krale skoon te maak.

’n Kleinboer, Lindile Xhapa, sê speenvarkies is ’n gewilde item onder diewe.

“Die diewe steel van ons en gaan verkoop dan hul buit aan lede van die publiek. Maar dié vee stel ons in staat om ons families te kan voed,” sê Xhapa.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters