11 dae gelede
Inwoners suffer in hitte sonder water
staan tou: Die versengende hitte maak die inwoners van Calitzdorp ekstra dors. Foto: KEITH MEYER  ~ 

CALITZDORP. – ’n Helse ervaring.

Dit is wat inwoners hier deurgemaak het toe hulle nie net deur Sieskom vir ’n ride gevat is met load shedding nie, maar ook weens ’n gebrek aan dienslewering erg sukkel.

’n Inwoner, Kakie Willemse, is boos: “Dit voel so ons dorpie is vergete. Ons suffer onder Eskom, maar die ergste was dat ons vir twee dae geen water gehad het nie.

“En dit kook hier buite in die Karoo-hitte. Ons kon nie eens ons toilet gebruik het nie.”

Luidens ’n voice note wat ’n inwoner van Bergsig aan Son gestuur het, het ’n waterpomp­ gekonk omdat “onbevoegde persone met gesofistikeerde apparate moet werk”.

Daar was glo nie chloor in die water nie en die pomp het toe uitgebrand. Dus kon geen water uit die reservoirs gepomp word nie.

Ene Cornelia sê: “Die raad het eers op dag 2 ’n rooi waterlorrie die ge bied ingestuur. Toe moes jy sien hoe hol die mense agter die trok aan, want daai trokkie raak sommer gou leeg. Dis ’n skande dat mense agter ’n basiese reg moet aanhardloop.”

Reggie Timmie, dorps­bestuurder, sê hy het gou opgetree: “Die pomp het onklaar geraak. Ek het dadelik ’n nuwe pomp laat kom, maar die diensverskaffer het eers die dag daarna gekom.

“Dis mos omstandighede buite ons beheer. Soos ons nou praat, is hulle besig om die pomp te vervang. Ons vra die inwoners om verskoning.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters