19 dae gelede
Inwoners óp van ’brommershoop’
GEE RAAD: Jan Julies wil help om dié gebied te verfraai en ontslae te raak van die gemors wat hier gegooi word.  ~ Keith Meyer

CALITZDORP. – Hulle is óp van die vullishoop wat meer ’n brommershoop is.

Só voel die gemeenskap van Royal Heights oor sommige mense in die gemeenskap wat die vreemdste goed op die oop stuk grond kom dump.

Jan Julies, ’n inwoner, sê: “Dit stink regtig papvrot hier. Brommers bly in mense se huise, want hier word sommer dooie diere ook weggegooi.

“Dis onnodig dat mense dure insekdoder moet koop vir die vlieë. Ek was al hoeveel keer by die munisipaal net om die vullis te kom wegry. Ek was by almal se kantore. Dan kla hulle dat hul lorries nie beskikbaar is nie of dat daar nie nou manne is nie.

Gemeenskapstuin

“Ek het al ’n blink voorstel aan hulle gegee. Al wat ek wil hê, is dat hulle eers die gemors wegry.”

Volgens Julies het hy al voorgestel sodra die vullis weggery is, sal hy sorg dat die stuk oop grond in ’n gemeenskapstuin omskep word.

“Ek sal self die plek toespan. Ek sal dan mense uit die gemeenskap kry om die stuk grond te verfraai en selfs groente en blomme aanplant.

“Praat julle ook, asseblief. Dalk luister hulle as julle navraag doen.”

Reggie Timmie, ’n munisipale amptenaar, sê: “Ons sal aandag aan die saak gee.

“Terselfdertyd moet die gemeenskap opgevoed word dat vullis strooi ’n oortreding en ook onhigiënies is.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters