13 dae gelede
Inwoners keelvol vir spoedvrate
JAERS: ’n Ou het pak gekry toe hy dié “spoedhobbel” wou verwyder.  ~ Mpumi Kiva

MOSSELBAAI. – Inwoners hier het ’n motoris aangeval toe hy ’n selfgemaakte spoedhobbel probeer verwyder.

Woedende inwoners sê hulle maak die hobbels om te keer dat motoriste jaag. Dis vir hul kinders se veiligheid.

Hierdie hobbels is slote wat in die pad gegrawe word en dan met sand en bakstene bedek word.

Toe ’n 36-jarige bestuurder van ’n VW Polo egter hierdie “hobbel” uit die pad wou haal, was die gort gaar. Die driver is met die vuis bygekom en sy klere is van sy lyf geskeur.

Die voorval het in die Asla Park-woonbuurt voorgekom.

Gatvol

Lizel Wilson (52), ’n inwoner, sê hulle is gatvol van motoriste wat nie respek vir ander het nie.

“Ons het probeer om met gemeenskapsleiers te praat, maar daar word net niks aan die probleem gedoen nie.

“Katte en honde word deur hierdie roekelose bestuurders doodgery. Hierdie hobbels is veronderstel om mense stadiger te laat ry,” sê sy.

Wilson voeg by motoriste moet verstaan dat die hobbels nie geskep is om hul voertuie te beskadig nie, maar om veral die lewe van kinders en diere te beskerm.

Selby Jones, ’n plaaslike gemeenskapsleier, sê: “Ons gaan die probleem aan ons munisipaliteit rapporteer, want mense kla al lank oor die roekelose bestuurders. Hopelik kan die probleem gou opgelos word.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters