8 dae gelede
Inwoners is óp van boewe
MOERIG: Sunelle Adams sê sy laat nie met haar mors nie.  ~ Keith Meyer

CALITZDORP. – Dié dorpie se mense is nou behoorlik gatvol vir diewe en inbrekers.

Die inwoners het besluit genoeg is genoeg.

Hulle het hulle nou voorgeneem om elke dief wat hulle vang, alle hel op aarde te gee.

Sunelle Adams, ’n inwoner, vertel: “Een Vrydagaand so by negeuur se kant toe sien ek dat my musiek-speelding net weg is. Ons was in die huis besig om TV te kyk.

“So, dit moet iemand wees wat elke dag hier kom.

“Ek was so boos, want ek betaal nog af daaraan. Dis ’n duur ding wat twee sticks vat en goeie sound het.”

Dis toe dat die gemeenskap self begin speurder speel en try om Adams se gesteelde music box op te spoor.

’n Vermoede het hulle toe by twee vermeende skurke uitgebring.

Voorbeeld

Adams-hulle besluit toe om hulle te slaan totdat hulle sê wie die diefstal gepleeg het. Hulle het die vermeende skurke sommer goed op hul hel gegee.

“Ons wou maar net ’n voorbeeld maak dat ander diewe dit nie weer sal waag om te steel nie,” het ’n inwoner van 6de Laan van haar laat hoor.

“Ek het ook ’n saak by die polisie gemaak. Hulle het die saak gevat, maar weet jy, hulle sê ek moet maar self kyk of ek die gesteelde boks kan opspoor,” kla Adams.

Die gemeenskap sê hulle is van plan om diefstal in hul woonbuurte uit te roei.

’n Inwoner sê: “Die uur het geslaan dat gemeenskap-speurders self diewe opspoor en plat speel.”

Son verneem die polisie ondersoek ’n saak van diefstal soos deur Adams aanhangig gemaak is.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters