3 maande gelede
Icosa soek Bredell se afdanking

DIE Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa) eis die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, se kop.

Dit volg nadat Bredell na bewering aan raadslede van die Oudtshoorn-munisipaliteit voorgestel het hulle moet vra dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas word.

Dít sodat die raadslede hul salarisse kan behou.

In ’n WhatsApp voice note wat tans die rondte doen, kan daar gehoor word hoe Bredell DA-raadslede die opdrag gee om hul teenwoordigheid op grondvlak te verbeter.

Bredell sê aan die begin van die voice note: “Ek weet sommige van julle sal geskok wees, maar luister net na wat ek gaan sê ...”

Dawid Kamfer, Wes-Kaapse Icosa-voorsitter, eis Bredell moet afgedank word, aangesien hy voel Bredell het nie soos ’n provinsiale minister opgetree nie.

Kamfer sê: “Dit wil voorkom asof dit die DA se plan is, orals waar hulle agterkom hulle is besig om mag te verloor, om die minister te gebruik om hulle onder administrasie te plaas.

“Gaan George die volgende munisipaliteit wees, want vir drie agtereenvolgende raadsittings kon die begroting nie goedgekeur word nie omdat daar nie ’n kworum was nie.

Vergadering

“Icosa is van mening dít is waarom die Kannaland-munisipaliteit alreeds vir vier jaar onder administrasie is.

“Dis ’n plan om die DA se korrupsie uit te vee.”

Bredell se woordvoerder, James-Brent Styan, sê dis moontlik die voice note is buite konteks aangehaal.

“Dis ’n ongedateerde clip van slegs ’n paar sekondes van moontlik ’n ure lange vergadering.

“Dit blyk die minister verduidelik hoe ’n administrasie-proses ingevolge die wet werk,” het Styan laat hoor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters