6 dae gelede
Icosa-lid kla oor komplot
ONTEVREDE: Dawid Kamfer is vies.  ~ Keith Meyer

MOSSELBAAI. – ’n Cop het sy verklaring “gesteel” in wat hy as ’n komplot teen hom beskou.

Só sê Dawid Kamfer, ’n Icosa-raadslid van hier, nadat hy glo “Covid-hamper-bedrog” in die raad aan die lig gebring het.

Kamfer sê: “Honger mense het by my kom kla omdat sommige mense meer as een keer van die raad se hampers gekry het – veral mense wat op die DA-beheerde raad se voters’ roll was.

“Ek het ’n saak gemaak en die speurders het die saak ondersoek.

“Toe word ek skielik aangekla dat ek die raad se naam in oneer gebring het toe die vissermanne ook oor raad­sake betoog het.

“Ek het die petisie ontvang en toe word ek met R2 000 gefine en die raad kla my verder aan.”

Wat Kamfer toe later ontdek, is dat die polisieverklaring wat hy afgelê het, deel was van die raad se ondersoek teen hom.

“Hoe het die raad dan my vertroulike polisieverklaring in die hande gekry?

“Dit is hoekom ek ’n saak teen die betrokke cop gemaak het.”

Volgens Kamfer is die saak toe wel ondersoek, “maar dit was oppervlakkig en ek is nie happy nie.

“Iemand moet aan die kaak gestel word, want die gesteelde verklaring was deel van die klagstaat.

“ ’n Komitee van die raad het my in absentia skuldig bevind en ek verneem ek is met R10 000 beboet nadat ek in my afwesigheid verhoor is.”

Nicky le Roux, die woordvoerder van die Mosselbaai-munisipaliteit, sê: “Die uitslag van die ondersoek teen rdl. Kamfer is nog nie voor die raad gebring nie.

Offisier

“Gevolglik kan ek nog nie enige kommentaar lewer op rdl. Kamfer se bewerings nie, aangesien die raad tot dusver nog geen aanbe­velings aanvaar of afgewys het nie.”

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, sê op sy beurt die klaer was nie tevrede met die aanvanklike ondersoek nie. Hy sê om dié rede is ’n senior offisier nou aan­gestel om die saak weer te ondersoek.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters