3 maande gelede
Huiseienaars laat ‘waterdiewe’ sluk
STEEL? Twee mense moes water drink dat hulle hop. Foto ter illustrasie: melinda stuurman  ~ 

GEORGE. – ’n Vrou en man wat na bewering water gesteel het, is gedwing om die einste water te drink totdat dit by hulle ore uitloop.

Dié voorval het Dinsdag in die plakkerskamp buite Nekkies in Knysna gebeur.

Nolulamo Dwebe (34) en Elridge Jantjies (28) het water by mense se erf getap toe vyf mense hulle betrap.

Dié twee het al twee emmers vol water getap toe die bure aan die inwoners gepiemp het van die waterdiewe.

Dwebe sê hulle sukkel om water te kry en gaan na nabygeleë huise om water te soek.

“Ons het nie water gesteel nie. Ons wou bloot net water hê omdat ons nie water by ons shacks het nie.

“Die groep mense het ons gekry waar ons water tap. Hulle was kwaad en het ons gedwing om die water te drink.

Gewaarsku

“Ek kon nie die tweede liter klaarmaak nie, want my maag was vol. Ons het hulle gesmeek en gesê ons is jammer, maar ons het nie gesteel nie.”

Volgens Dwebe het een persoon hulle verstaan, maar het hulle gewaarsku om elders water te gaan kry omdat húlle vir water moet betaal.

Jantjies sê hulle het nie water waar hulle bly nie.

“Ons gaan vra dan maar vir die mense in die huise vir water. Nou straf hulle ons. Ek het twee liter water gedrink en het krampe gekry. Ons het nie gesteel nie. Dit was net ’n ongelukkige voorval.”

’n Huiseienaar (54) in die area, wat nie sy naam wou gee nie, sê hy verstaan die mense sukkel. “Maar ons betaal vir die water en kry groot rekeninge. Ons kan nie toelaat dat mense ons water steel nie, want ons betaal dan later daarvoor,” sê hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters