11 dae gelede
Hout ál uitkoms
WERKLOOS: Bonnie September maak nou hout bymekaar.  ~ Mpumi Kiva

OUDTSHOORN. – ’n Gesinsman wat sy job verloor het as gevolg van die pandemie, het nou ’n groep mans gejoin wat survive deur hout in die bosse bymekaar te maak om aan die gemeenskap te verkoop.

Bonnie September was een van die werkers wat sy job in April verloor het nadat die verf-maatskappy in die dorp waar hy gewerk het, mense begin aflê het.

Nou maak die 41-jarige man maar hout bymekaar om aan die plaaslike gemeenskap te verkoop sodat hy kan omsien na sy gesin wat in die Hopefield-plakkerskamp bly.

Elke oggend tel hy sy handsaag op en stap ’n ent om hout in die bosse te gaan haal.

Dié pa van twee sê die geld wat hy vir die hout kry, help om kos op die tafel te sit.

Hy sê sy lewe het drasties verander vandat hy sy werk verloor het.

Die company waarvoor hy gewerk het, kon nie geld maak as gevolg van die lockdown nie en die besigheid het begin swaar trek.

September was een van die mense wat moes waai nadat hy sewe jaar daar gewerk het.

“Ek dra die hout met my kaal hande en skouers vir ’n redelike afstand en doen dit soms tot vier keer ’n dag.”

Die bedrae wat hy maak wissel van R15 en R50 tot R80, afhangend van die vrag.

Hy sê dit is nie iets wat hy wil doen nie, want hy is ’n painter van beroep, maar dis nou tawwe tye.

September het nou maar die job voltyds aangevat, want hy dink nie hy sal ooit weer werk kry nie.

Hy kan ook nie aansoek doen vir pension nie, want hy is nog te jonk.

Gedruk

Steven Windvogel (48), wat ook hout bymekaar maak, sê dis ten minste ’n eerlike manier om ’n lewe te maak en daar is niks anders wat jy kan doen nie.

Die huise in die gebied het nie elektrisiteit nie en mense maak kos op die vuur.

Hy het sy job by ’n construction company verloor en die lewe het so gedruk dat hy honger gaan slaap het.

Hy meen dis die enigste manier om ’n lewe te maak en nie in die moeilikheid te beland met misdaad nie.

Die geld wat Windvogel maak, help hom om brood, suiker en ander benodigdhede vir sy twee kids te koop.

Vandat hy begin hout verkoop het, maak hy seker sy kinders gaan slaap nie meer honger nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters