3 maande gelede
Hoof gepos ná drama oor verlof
van wyksdorp
'n Hoof van 'n kleuterskool is gefire  ~ 

VAN WYKSDORP. – Dit woel by die kleuterskool Ons Nessie nadat die hoof die hek gewys is in ’n twee maande lange stryery oor verlof.

Surika Festus beweer die Oasis Gemeenskapsorganisasie se CEO, Ronetta Saffrey, het onregmatig opgetree en sy is nou op pad CCMA toe.

Festus verduidelik: “Alles het begin oor ons verlofdae net ná Nuwejaar. Ons almal by die skool het verlof gehad, maar toe moes ons op 2 Januarie begin.

“Ons het met die projekbestuurder daaroor gesels en daar is ooreengekom dat ons die 7de die kleuterskool kon open.

“Toe word daar van ons geld afgetrek vir daai verlof. Wat op aarde maak ’n mens met net R800?”

Skeuring

Festus voel dat sy uitgesonder is. Op ’n ouervergadering was daar glo chaos toe die ouers verneem dat sy geskors is.

“Nogal sonder ’n dissiplinêre verhoor of kennisgewing van ’n verhoor is ek afgedank,” sê Festus.

Dit het gelei tot ’n skeuring en Festus het nou amptelik haar eie kleuterskool geregistreer as Sonstraal-kleuterskool.

Saffrey het by navraag beweer Festus het alles onwettig gedoen.

“Sy dink sy is verhewe bo die wet. Ons het begin met legal action teen haar. Die verlof was onwettig.

“Sy is tans besig om die gemeenskap op te maak en ondermyn die organisasie. Sy het nie haar dissiplinêre verhoor bygewoon nie. Haar crèche is onwettig.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters