14 dae gelede
Hof sê 2 killers kan nie appèl aanteken
Die twee skuldiges se aansoek om appèl is afgekeur.  ~ Foto Verskaf

DIE aansoek van die twee moordenaars van ’n 19-jarige matrikulant van Oudtshoorn om teen hul skuldigbevinding te appelleer, is Maandag in die streekhof geweier.

So ook ’n aansoek om borgtog hangende ’n petisie wat die verdediging voor die hof wil bring.

Streeklanddros Sylvia Mandla het Richard Manel (43) en Shaun Nagel (40) elk tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moord op Angelo Manewille op 28 Julie 2018 in Springbokweg, Bridgton.

Hulle het met hom baklei oor ’n saak wat glo niks met hulle te doen gehad het nie.

Albei het tot die einde skuld ontken.

Getuienis

Die landdros het die twee se verweer verwerp dat hulle uit selfverdediging opgetree het. Hulle kon ook nie verduidelik hoe Manewille sy beserings gekry het nie.

Voorts het sy die getuienis van Tommy Anthony, wat die bakleiery vanaf sy stoep dopgehou het, as betroubaar bevind.

Anthony het getuig dat hy gesien het hoedat Manel die slagoffer met ’n skerp voorwerp steek.

Die landdros het bevind hoewel Nagel nie ’n wapen gehad het nie, het hy en Manel met ’n gemeenskaplike doel opgetree.

Volgens Manel en Nagel se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys nie en die landdros het gefouteer met die skuldigbevinding. Hy meen ’n ander hof kan tot ’n ander slotsom kom.

Die staatsaanklaer Brandon Smith het die aansoek teengestaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters