16 dae gelede
Hof ‘hok’ man

OUDTSHOORN. – ’n Man wat sy pit bull aangehits het om ’n 15-jarige seun te byt, is in die streekhof skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer en vir lank onder huisarres geplaas.

Howard du Plessis (44) se hond het Angelo Pikaan op 9 Februarie 2020 voor sy bors en aan die hand gebyt voordat hy daarin geslaag het om weg te kom.

Die seun het getuig dat hy in die straat op ’n klip gesit het toe die beskuldigde met sy hond by hom verbygestap en vir die hond “Sa!” gesê het. Die hond het glo ook al drie van Pikaan se familielede gebyt.

Verwerp

Du Plessis het die seun se weergawe ontken en aangevoer dat die hond losgeruk het toe die seun die hond met ’n klip gegooi het.

Streeklanddros Daniel Boks het sy weergawe as vals verwerp en die seun as ’n betroubare getuie beskryf.

Boks het by vonnisoplegging gesê die beskuldigde moes geweet het dat ’n pit bull ’n gevaarlike hond is.

Hy het sy kommer uitgespreek dat die beskuldigde nie “met skoon hande” na die hof gekom en skuld erken het nie.

“Wanneer jy ’n hond aanhou, moet dit wees omdat jy lief is vir honde en nie om ander mense seer te maak nie.”

Opgeskort

Die landdros het egter bevind dat ’n vonnis van 10 jaar skokkend sal wees en hy wil nie van die beskuldigde ’n voorbeeld maak nie.

Hy is gevonnis tot ses jaar tronkstraf wat in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is, asook drie jaar korrektiewe toesig wat 24 uur per dag huisarres vir die volle tydperk behels.

Verder is ’n vergoedingsbevel gelas wat bepaal dat hy R1 000 aan die ma van die seun moet betaal vir mediese en ander uitgawes. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters