16 dae gelede
Hof haal ou uit samelewing
MANG TOE: Hendrik Uithaler is skuldig bevind daaraan dat hy geld uit sy werkgewer se kluis gegaps het.  ~ Foto ter illustrasie: Son

OUDTSHOORN. – Die plaaslike streekhof het ’n man van Riversdal verlede week aan diefstal skuldig bevind en vir agt jaar tronk toe gestuur.

Hendrik Uithaler (25) het ’n lang lys vorige veroordelings. Uithaler het in Prins Albert gewerk.

Hy het skuldig gepleit op die aanklag dat hy die kluis van Spar, waar hy ’n werknemer was, oopgesluit en R10 000 vir homself geneem het.

Kanse

Die staatsaanklaer Elaine Plaatjies het die hof meegedeel dat Uithaler geen ander keuse gehad het as om skuldig te pleit nie omdat hy duidelik op CCTV gesien is.

Sy sê ná talle vonnisse in die Riversdal-landdroshof het hy hom na Prins Albert gewend en daar weer misdaad gaan pleeg.

Hy het nie die kanse gebruik wat hom tot dusver gegun is nie en behoort vir lank agter tralies gehou te word. Volgens haar is hy ’n kandidaat om as gewoontemisdadiger verklaar te word.

Neiging

Uithaler se regshulpprokureur, Nico Wenzel Botha, het vir ’n gedeeltelike opgeskorte vonnis gevra omdat sy kliënt reeds lank in aanhouding was.

Streeklanddros Daniel Boks het in ag geneem dat hy skuldig gepleit het.

In sy uitspraak het Boks gesê Uithaler is geneig om misdaad te pleeg.

Boks meen ’n langer vonnis is die enigste oplossing omdat vorige korter strawwe nie die gewenste uitwerking gehad het nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters