4 maande gelede
Hoëkoppe op pad na dorp oor sterftes
KWAAD: Heidelberg en Slangrivier se inwoners soek antwoorde by die Heidelberg-polisie.  ~ Clive Pretorius

DIE Wes-Kaapse polisiebestuur moes al lankal die Heidelberg-polisiekantoor ondersoek het.

Só skryf Colin Arendse, ’n gemeenskapsaktivis en ’n fluitjieblaser teen korrupsie, in ’n ope brief aan die Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Yolisa Matakata.

Volgens Arendse sal Matakata en ’n afvaardiging van die provinsie se polisiebestuur die Suid-Kaapse dorpie saam met eerw. Chris Nissen van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie besoek.

Inwoners het Nissen die naweek ingeroep nadat ’n vierde persoon in die polisiestasie se aanhoudingselle gesterf het.

Son het Woensdag berig die gemeenskappe van Heidelberg en Slangrivier se knak het opgestoot toe die lyk van ’n 51-jarige man dié naweek in die selle gevind is. Die man is Saterdagmiddag vir huismoles toegesluit.

Ndileka Cola, ’n woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), het die voorval bevestig.

“Ons ondersoek die man se dood.

“Hy is hangend in die selle gevind. Ons het Maandag die toneel besoek waar hy gevind is. ’n Lykskouing moet nog gedoen word om die presiese oorsaak van dood vas te stel.”

Die gemeenskap wag ook nog op antwoorde oor die dood van Henry “Pielie” October, wat op Dinsdag 29 September in die hospitaal in George gesterf het.

Son het berig twee polisielede het hom na bewering aangerand. Hy het ernstige inwendige beserings opgedoen.

Benewens dié twee gevalle is twee mense in die afgelope twee jaar in die selle dood.

Die gemeenskap het ook nog nie klarigheid oor die dood van Nicolin Davids (26) nie.

Dié verpleegstudent se liggaam is op Sondag 27 Oktober op oop veld langs die dorp se rugbyveld gevind.

Hy is vermoedelik dood toe ’n voertuig oor sy kop gery het. Daar word beweer die voertuig behoort aan die plaaslike polisie.

Intimidasie

Benewens dié sterftes is die gemeenskap en Arendse ontevrede dat ’n veroordeelde ontvoerder steeds vir die polisie werk en dat hy selfs intussen tot kaptein bevorder is.

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat kapt. Mervyn Zana nog by die stasie werk.

“Die aanklagte van ontvoering en intimidasie dateer uit 2012. Zana is toe in die Riversdal-landdroshof skuldig bevind en daarvolgens gestraf.

“Maar Saps het sy eie dissiplinêre ondersoek gedoen en die lid onskuldig bevind. Hy is ook geskik bevind om te werk.”

Nissen het die dorpie reeds Maandag besoek, maar hy is glad nie in die polisiekantoor toegelaat nie.


Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters