Verlede jaar
Hermanus: Grond vir betogers geïdentifiseer
geteiken:Die Zwelihle-biblioteek is ook aan die brand gesteek tydens die onrus Maandag.Foto’s: TWITTER  ~ 

DIE Wes-Kaapse minister van behuising, Bonginkosi Madikizela, en die Overstrand-munisipaliteit se beamptes het gister met inwoners van Zwelihle in Hermanus vergader.

Dit het gevolg op pogings om oop stukke grond oor die naweek te beset. Maandag is dit op die spits gedryf en is daar oorgegaan tot gewelddadige botsings met die polisie.

Die poging tot grondgrypery het gevolg nadat die plaaslike EFF-lede inwoners aangemoedig het om shacks op leë munisipale grond op te rig.

Die toerismedorp was gister weer kalm. Die skade wat die betogers aangerig het, was nog sigbaar nadat munisipale voertuie, die biblioteek en ’n satelliet-polisiestasie tydens die optogte aan die brand gesteek is.

Buitelanders se winkels is ook in die chaos deur sowat 2 000 betogers geplunder.

Gemeenskapsleiers het aan Madikizela en die munisipale bestuurder, Coenie Groenewald, gesê hul pleidooie vir huise val al jare op dowe ore.

“Ek het in Zwelihle grootgeword,” sê hy. “Ons mense bly al jare in haglike omstandighede. Ons is in Zwelihle onderdruk. Ons het ons kwessies jare lank hoorbaar gemaak.

“Ons het beëdigde verklarings. Ons het bewyse wat ons voor die hof kan bring oor die kwessie wat ons geopper het.”

Madikizela het aan die gemeenskapsleiers gesê hy het gisteroggend met die munisipaliteit vergader. Hulle het grond geïdentifiseer waarop mense gehuisves kan word.

Dié gronde sal gedeel en dienste moet daar verskaf word terwyl die hokbewoners vir huise wag. Hy wou nie die presiese plek bekend maak nie om besettings te vermy.

Die munisipaliteit moet eers met kriteria vir kwalifisering vorendag kom vir plek daar.

’n Inwoner sê die backyarders sal nie almal geholpe kan raak nie oor die lang waglys.

Volgens Madikizela is daar tussen 3 500 en 5 000 mense op die waglys in Zwelihle.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters