2 jaar gelede
Haastige Porsche tref kar
lelike smash: Die ongelukstoneel lyk omtrent soos ’n action movie met die duur motor in sy tjops. Foto: KEITH MEYER  ~ 

LADISMITH. – Dit was ’n crash so reg uit ’n aksiefliek . . .

Dít is hoe die botsing tussen ’n Porsche en ’n Polo hier op die R62 beskryf kan word.

’n Ooggetuie vertel: “Daai blou Volkswagen Polo het van Ladismith se rigting na Oudtshoorn gery en die Porsche van Oudtshoorn se rigting na Ladismith.

“Hier onder by die draai naby die plaas Wolwekloof het die Porsche ’n lang lorrie try overtake – nogal op ’n sperstreep.

“Die Porsche was op volspoed en kon net-net nie genoeg spoed optel om betyds verby te kom nie.

“Dis toe dat die twee karre bots. Gelukkig was dit nie ’n kop-aan-kop-botsing nie.”

AO Jannie Cedras, polisiewoordvoerder, bevestig: “Die ongeluk het naby Wolwekloof gebeur.

“ ’n Lid van die misdaadvoorkomingseenheid, Martin Esquire, wat van diens af was, was daarby betrokke.

“Die Porsche het wel op ’n sperstreep probeer verbysteek. Albei het die ongeluk probeer vermy, anders sou dit ’n trompop-botsing gewees het.

“Esquire en ’n familielid is met beserings na die plaaslike hospitaal geneem. Hulle is later na George oorgeplaas vir ver­dere mediese behandeling.

“ ’n Klag van roekelose en/of nalatige bestuur word ondersoek.”

Die polisie waarsku motoriste om maar geduldig te bly en die verkeersreëls altyd te gehoorsaam.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters