8 dae gelede
Gun laat man agt jaar sit
Phillip Jaftha kan vir die volgende 8 oor sy sondes dink.  ~ Foto: verskaf / ter illustrasie

’N MAN van Oudtshoorn met 19 vorige veroordelings is in die streekhof 8 jaar gevangenisstraf opgelê vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Phillip Jaftha (52) het in ’n pleitverduideliking erken hy was in besit van die 9 mm semi-outomatiese pistool en ammunisie, maar het voorgehou dit was nie wederregtelik nie, aangesien hy dit opgetel het.

Volgens hom was hy juis op pad na die polisie om dit te gaan oorhandig.

Hy het egter ook in die hof getuig dat hy die pistool en ammunisie vir R200 van ’n onbekende persoon gekoop het.

Hy het verder getuig dat hy ’n polisie-informant is.

Die staatsaanklaer Brandon Smith het dit aan die beskuldigde gestel dat hy sal moet besluit of hy ’n misdadiger wil wees of iemand wat die polisie wil help.

Streeklanddros Sylvia Mandla het ook Jaftha se getuienis verwerp.

Sneller

Al het hy nie die vuurwapen gebruik nie, is hy aan ernstige misdrywe skuldig bevind. Hy was byvoorbeeld roekeloos deur met sy vinger op die sneller te loop.

Hy het homself weerspreek deur eers voor te gee dat hy die pistool en ammunisie opgetel het, maar in die hof getuig dat hy dit vir R200 by iemand gekoop het.

Volgens die streekslanddros het die polisie geen rede gehad om in die hof te lieg nie.

Sy het vir vonnis in ag geneem dat Jaftha vir die laaste 10 jaar ’n skoon pad geloop het, nie jonk is nie, en die pa van agt kinders is.

Sy het hom toe ses jaar tronkstraf opgelê vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en twee jaar vir die besit van ammunisie sonder ’n lisensie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters