Verlede maand
Grypdief laat sy streke val
Askies: Claude Stalmeester sê hy’s nou klaar met sy gryp-dinge.  ~ KEITH MEYER

’N GRYPDIEF van die plaas St. Helena net buite Calitzdorp wat hom net meer as ’n maand gelede disnis geval het nadat hy by ’n afgrond afgestort het, pleit nou om vergifnis.

Claude Stalmeester (31) het voor sy pa, Gert, by hul huis gevra dat Son die gemeenskap moet vra om hom te vergewe.

“Ek is bitter jammer. Ek kon dood gewees het, maar het ’n tweede kans gekry en wil nou net regmaak wat ek gedoen het.

“Ek het daardie dag ’n persoon se geld gegryp en toe hol ek die veld in.

“Dit is toe dat ek net eensklaps voel maar ek hol nie meer nie... Ek vlieg dan nou!

Beseer

“Ek het geskreeu, maar toe ek land, toe maak ek eers weer my oë in die hospitaal oop,” vertel hy van daardie dag toe hy so hard by die krans afgeval het.

Volgens Stalmeester het hy sy kop, nek en rug beseer toe hy hard met die grond kennis gemaak het.

“Gelukkig kan ek nog loop. Ek is nog onder die dokter, maar sal dit nooit weer doen nie. Mense moet my nie meer as ’n skelm aankyk nie,” het hy weer gesoebat.

Pa Gert was ook erg teleurgesteld en sê: “Maar natuurlik is ek kwaad vir die klong.

“Ek sit in ’n rolstoel en hy moet dan na my omsien.

“Ek is sommer lus en gee hom nog ’n pak ook.

“Van nou af sal hy maar die reguit paadjie moet bewandel!”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters