2 maande gelede
‘Grocery rapist’ se saak uitgestel
Jason Eksteen hoor binnekort sy lot.  ~ Foto ter illustrasie: Son

DIE saak teen ’n man van Toekomsrus in Oudtshoorn is in die plaaslike streekhof vir uitspraak uitgestel. Hy word aangekla van roof met verswarende omstandighede, huisbraak en poging tot verkragting.

Jason Eksteen (35) word daarvan aangekla dat hy tussen 23 en 24 Oktober by die huis van ’n 54-jarige vrou ingebreek het, haar gewurg en haar van groceries ter waarde van R350 beroof het. Hy wou haar na bewering ook verkrag.

Die vrou het getuig dat sy ná werk gaan slaap het.

Sy het wakker geskrik toe sy iets hoor en toe in Eksteen se oë vasgekyk.

Volgens haar was haar kruideniersware wat op die kombuistafel gestaan het weg, maar sy het nie gesien wie dit gevat het nie.

Vasgedruk

Eksteen het haar na bewering in ’n hoek vasgedruk, haar slaapbroek se knope probeer losmaak en haar met ’n tou gewurg. Hy het geloop nadat sy haar dood gehou het.

Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, vra die hof om Eksteen op alle klagte skuldig te bevind. Eksteen is goed aan die slagoffer bekend omdat hulle in dieselfde straat woon.

Eksteen se regsverteenwoordiger, Cindy Murray-Smith, is egter van mening dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.

Volgens haar maak die vrou se storie nie sin nie. Sy het wel toegegee dat sy ’n goeie getuie was en dat dit ’n barbaarse manier is om iemand só te beroof.

Streeklanddros Daniel Boks het die saak tot 17 Augustus vir uitspraak uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters