12 dae gelede
G’n deal vir kansvatter-hondesmous
WOEF: Hierdie brakkies is weer veilig by hul eienaar nadat ’n dief hulle gegaps het om hulle te verkoop.  ~ Mpumi Kiva

MOSSELBAAI. – ’n Man wat twee pit bull puppies gegaps en hulle in sy jas se sakke gedruk het, het sommer ’n lekker pak slae vir sy daad gekry.

Die hondedief se idee het geboemerang toe hy naby Asla Park gevang is waar hy die honde probeer verkoop het.

Die hondjies is Maandag vanuit hul erf gesteel, maar die ou het hulle nie ver van hul tuiste nie probeer verkwansel.

Inwoners sê die diefstal van pit bull puppies kom gereeld in Asla Park en die nabygeleë township van KwaNonqaba voor.

Die eienaar van die puppies, Vincent Parkies (44), sê hy was agter in sy jaart besig toe ’n buurman hom meedeel iemand is besig om die hondjies te steel.

Parkies sê: “Die hondjies se ma het net ’n draai gaan stap toe hierdie jong oor die heining spring en die hondjies steel.

“Ek het die jong later gevang. Die hondjies het uit sy lang jas se sakke gepeul terwyl hy besig was om met iemand oor ’n prys te onderhandel.

“Toe hy my sien, het hy probeer om die hondjies dieper in die sakke te druk.”

Verloor

’n Groep inwoners het toe die wannabe hondesmous ’n drag slae gegee.

Sydney Siwela sê hy het binne ’n maand vyf puppies verloor.

“Hulle is uit my jaart gesteel terwyl ek in die dorp was,” vertel Siwela.

“Ek is werkloos en die teel van hierdie puppies stel my in staat om kos vir my gesin te koop.

“Hierdie diewe verkoop die hondjies sommer vir tussen R200 en R500.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters