8 dae gelede
Girl los leemte
WEGGERUK: Luciano Manewil en Clodine Nuys is al sewe jaar ’n item.  ~ Foto Verskaf

GROOT-BRAKRIVIER. – “Ons lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.

“My hart het ’n onbeskryflike leemte.”

Só vertel Chantelle Nuys (20) van Groot-Brakriver nadat haar oudste suster, Clodine Nuys (22), vermoor is.

Clodine, ’n bibliotekaresse van Jonkersberg, se lyk is Dinsdag ná ’n groot soektog 18:50 agter ’n crèche gevind.

Clodine werk die afgelope twee jaar by die biblioteek. Omdat haar kêrel, Luciano Manewil (20), naby haar werksplek woon, het sy by hulle gewoon.

Die biblioteek maak 16:00 toe. Toe sy 16:20 nie by die huis opdaag nie het Luciano bekommerd geword.

’n Soektog is geloods, waarna haar lyk kort voor 19:00 agter ’n kleuterskool gevind is.

Nuys se voete was met kleefband vasgebind. Haar mond was ook met kleefband toegeplak. Sy is vermoedelik met ’n kabel verwurg.

Chantelle sê Clodine was ’n rolmodel vir haar en hul jongste suster.

“Sy het my geïnspireer. Sy sal nooit iemand seergemaak het of slegsê nie.”

Clodine Nuys (22)

Sy sê sy verwag nog dat haar suster sal huis toe kom, “maar dan besef ek, sy is rêrig nie meer daar nie”.

Manewil en Nuys sou vandag (14 Februarie) sewe jaar uitgegaan het.

“Sy was nie net vir sewe jaar my meisie nie. Sy was ook my beste vriendin en suster, my alles in een.”

Obsessie

Kort nadat Clodine se lyk gevind is, het die mense na haar vermeende moordenaar gesoek.

BESKULDIGDE: Russel Ayford is vas vir moord.

Die 24-jarige Russel Ayford, ook van Jonkersberg, is in die bosse naby die woonbuurt aangekeer.

Volgens kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, verskyn hy Maandag in die landdroshof in Groot-Brakrivier.

Clodine se vriende en familie sê hulle kan nie aan ’n rede dink hoekom enige een haar sou wou vermoor nie.

“Net hy (haar killer) sal weet,” meen die familie.

VAS: Russel Ayford (24) is gisteroggend in die bosse aangekeer vir Clodine se moord..

Ander sê die moontlikheid bestaan dat Ayford ’n vreemde obsessie met haar gehad het.

“Hy moes haar bewegings dopgehou het en alles beplan het. Want hoe verduidelik jy dat hy cellotape gehad het om haar vas te bind?”

Manewil sê hy is bly iemand is vir haar moord aangekeer.

“Nou kan sy ten minste in vrede rus.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters