Verlede maand
Geveerde waghonde laat dief bontstaan
Security: ’n Dief het gou geleer dié spannetjie is die beste wagte in die ganse wêreld. Foto: Mpumi Kiva  ~ 

GEORGE. – ’n Boef moes vir sy lewe hardloop toe ’n trop ganse hom verwilder toe hy probeer het om by ’n agterkamer by ’n huis in kwaNonqaba naby Mosselbaai in te breek.

Die dief is gesien toe hy die jaart binnegaan.

Maar hy het sommer haastig weer oor die heining gespring en met die pad af gehardloop met ’n skoolsak op sy rug.

Teen daai tyd het die boef ongelukkig klaar die ruit gebreek van die agterkamer waar die gesin al hul ou elektroniese goed bêre.

Die eienaar van die huis, Lumko Dyapu, het 15 ganse.

Hulle kan oral in sy jaart rondstap.

Dyapu vertel hy was in die huis toe hy die ganse hoor te kere gaan.

Hy was besig om vir sy kinders kos te maak toe hy die ganse se helse lawaai hoor.

Volgens Dyapu het hy onmiddellik geweet hier is moeilikheid.

Hy’s buitentoe, waar hy gesien het hoe die ganse die man bestorm.

En toe die boef Dyapu sien, is hy sommer baie gou weer oor daai heining.

Eerlike

Dis nie die eerste keer dat die ganse iemand bykom wat nie op die erf hoort nie.

Volgens Dyapu is ganse eerlike diere en as jy hulle liefde gee, sal hulle jou jaart beskerm teen enige iemand met kwade bedoelings.

“Diewe moet onthou: Die ganse is hier om my huis teen inbrake te beskerm.”

’n Buurman, Solomzi Bam, sê hy het gesien hoe die man by die jaart ingaan – en hoe paniekerig die einste ou oor daai heining is nadat die kwaai ganse hom geskraap het.

“Hy’t seker gedink daar is niemand, maar daai ganse het hom rondgejaag totdat hy weer baie vinnig oor die heining is.”

Bam glo nie die ou gaan terugkom nie, want hy het so ampertjies sy alie sonder ’n spieël gesien.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters