2 maande gelede
Gestremde se gesin suffer sonder krag
sukkel: Ma Magdelena Fortuin met klein Christolene (5) in haar arms. Foto: KEITH MEYER  ~ 

CALITZDORP. – Sy is gestremd, wat haar lewetjie al klaar bitter moeilik maak.

Maar dis maar net die begin van klein Christolene Fortuin (5) se probleme.

Haar ouers se huis in Neënde Laan het nie eens elektrisiteit om water te kook om haar bottels te steriliseer nie.

Son het vroeër berig oor die verstandelik gestremde Christolene wat skynbaar vergeet is deur die welsyn en wêreld.

Die Fortuins se krag is geblok en die raad wil dit nie weer aansit nie oor die familie se rekening agterstallig is.

Pa Morné Fortuin vertel: “Die krag is agter. Die huis was eers Rebekka Timmie s’n.

“Toe gaan reël ek met die raad oor die agterstallige krag en om iets te betaal sodat dit net weer kan aan kom.”

Volgens die pa het hy R300 vir ’n raads­amptenaar gegee, maar dié het dit toe van die agterstallige geld gaan aftrek.

En toe weier die raad om hulle krag weer aan te sit.

“Hoe kan ’n mens op ’n toelaag ’n rekening van meer as R20 000 afbetaal?” vra hy.

Ma Magdelena sê hulle moet nou maar hout in die veld gaan soek en buite vuur maak.

“Christolene moet medisyne drink uit skoon lepels en koppies. Haar klere moet gewas word. Ek kan nie eens ordentlike kos vir haar kook nie.”

Die ouers sê hulle het al affidavits afgelê om die skuld afgeskryf te kry, maar daar het niks van gekom nie.

Reggie Timmie, ’n munisipale amptenaar, sê: “As daar boonop ’n gestremde kind ter sprake is, moet die ouers my asseblief by my kantoor kom spreek sodat ons na die meriete van die saak kan kyk.

“Al is dit vir eers net om die krag weer aan te kry.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters