13 dae gelede
Gesteelde bakkie ná 11 j. tuis
Verheug: Sarah “Beauty” Meyer by haar bakkie.  ~ KEITH MEYER

CALITZDORP. – Dis soos Krismis in Oktober vir die egpaar Meyer.

Dit volg nadat hul bakkie wat sowat 11 jaar gelede “gesteel en verkoop” is, weer sy way terug na die yard in Bergsig gekry het.

Sarah Meyer vertel: “In 2010 het die einste Son-koerant ons gehelp om op die spoor van die bakkie te kom. Dit was nadat dit nie weer teruggekom het nadat ons dit vir ’n service geneem het nie.

“Polisie in en polisie uit. Niemand het geweet waarheen die ryding verdwyn het nie. Tot laas week!”

Volgens haar het iemand haar gebel: “Die persoon het gesê: ‘Ant Beauty, ek het vandag jou bakkie in Pacaltsdorp gewaar. Gaan haal jou bakkie.’

“Ek het toe dadelik die polisie en die traffics gebel. Hulle het toe die bakkie ingetrek!”

Bewys

Gawie, haar man, vertel: “Maar dit was nie sommer net vir gaan haal nie. Onthou, dit was in 2010 toe die bakkie van ons met bedrog weggeneem is.

“Ons moes bewys lewer dat dit ons bakkie was. Want toe was die bakkie al drie keer verkoop. Sonder dat die regte papiere gewys is, want ons is die enigste met wettige papiere.

“Ons moes vir dae en ure sukkel om die bakkie uit die yard by Saps te kry. En toe ons daai bakkie uiteindelik sien, was dit net ’n stuk scrap!”

Maar ná duisende rande se herstelwerk is die egpaar in die wolke.

“Julle is die beste speurders! Dankie vir oom Kakie Willemse, wat nooit moed opgegee het nie. Ons bakkie slaap vanaand op sy plek en sy loop!” spog ant Beauty.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters