27 dae gelede
Gesin rou oor ligstraaltjie
TRAGIES: Die motor waar dit in die landerye tot stilstand gekom het.  ~ Clive Pretorius

HEIDELBERG. – ’n Seuntjie (7) van die plaas Kleinbosheuwel het Saterdagaand net ná 18:00 sowat 8 km buite dié dorp gesterf toe die motor waarin hy ’n passasier was die pad verlaat en gerol het.

Eldino Saaiman (7), ’n gr. 1-leerder van Vondeling Primêr net buite Witsand, was saam met sy ouers op die R322 (Witsand-pad) toe sy pa, wat blykbaar die bestuurder was, beheer oor die motor verloor.

Die voertuig het in die landerye langs die pad tot stilstand gekom.

Eldino het op die toneel gesterf. Drie ander passasiers is in die hospitaal opgeneem – twee in George en die ander een in Riversdal.

Een jong man in die George Hospitaal het ernstige nekbeserings opgedoen.

Volgens AO Alroy Windvogel, ’n polisiewoordvoerder, word ’n klag van strafbare manslag ondersoek.

’n Lykskouing sal ook gedoen word om die oorsaak van die seun se dood te bepaal.

Verjaardag

Die ondersoek duur voort. Eldino se mammie, Honey, vertel hartseer dat haar jongste seun net Vrydag nog sy sewende verjaardag gevier het.

Sy vertel: “Hy was voorwaar ’n ligstraal in ons huis. Jy het onmiddellik geweet wanneer hy in die huis is.

“Hy was ’n klein terggees soos min. Ons gaan hom verskriklik mis.”

GESIN: Eldino se ouer boetie, Ashwill, en sy ma, Honey Saaiman, is verskriklik hartseer. Foto: Clive Pretorius

Jenay Esau, sy tante, vertel ook dat Eldino ’n baie liefdevolle en spontane kind was wat nie gehuiwer het om sy sê te sê nie.

“Hy was net enig in sy soort en ek veral gaan hom baie mis.”

Eldino laat benewens sy ma, ook sy pa, Cashwill, broer, Ashwill en oupa Louis agter.

Die begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie afgehandel nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters