3 maande gelede
Gesin doen stappe ná baba se dood
baie hartseer: Chelci Lucas is die ma van die baba.FOTO VERSKAF  ~ 

MOSSELBAAI. – Klein Chédin Lucas, wat net ’n klein rukkie gelewe het nadat sy ma, Chelci, die lewe aan hom geskenk het, se dood gaan nou ondersoek word.

Die jong, hartseer ma vertel: “Ek was in kraam in Mosselbaai se hospitaal. By die geboorte is daar gesukkel om die kind uit te kry.

Ergste

“Toe die kop uitkom, het hulle geskrik, want die kind was groot. Toe sukkel hulle om die skouers uit te kry.

“Die ergste is dat die kind nie op sy eie asemgehaal het nie.”

Chédin, wat by geboorte byna 5 kg geweeg het, moes volgens Chelci met ’n keisersnee in die lewe gebring gewees het.

Boonop moes hulle langer as vier uur vir die nooddienste wag sodat die baba na die George-hospitaal oorgeplaas kon word.

Sy sê: “Die matrone het ons nou ontbied vir ’n dringende vergadering oor die dood van my kind. Ons gaan voort met regstappe.”

Intussen het die familie drie dae van rou afgekondig.

Sy vertel hartseer: “Hy het net drie dae gelewe en ons wil drie dae rou en vas hieroor.”

Nadia Ferreira, ’n woordvoerder van die departement van gesondheid, het by navraag gesê: “Die hospitaal is gevra om die dood van die baba te ondersoek.

“Daarna sal die ouers meegedeel word wat die uitkoms van die ondersoek was.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters