Verlede maand
Geliefde seuntjie se ster verskiet
SAAM ENGELE: Juralthon Jacobs (12) se sterretjie het verskiet.  ~ Foto Verskaf

LADISMITH. – ’n Geliefde 12-jarige gr. 7-seuntjie van Towerkop Primêr se sterretjie het verskiet.

Vratte op Juralthon Jacobs se stembande het blykbaar veroorsaak dat hy nie kon asemhaal nie.

As gevolg van die landwye inperking kon hy nie vir sy opvolgbesoek in die hospitaal in George gaan nie.

Sy ma, Babsie Jacobs, vertel: “Hy het mos vratte op sy stembandjies ontwikkel. Hy het al hoe moeiliker begin sluk en asemhaal.

“Hy was onder George, maar toe hy siek raak, het ons hom na ons Alan Blyth Hospitaal geneem.

“Daar het die mediese personeel hul bes probeer. Maar God het anders besluit. Hy wou nog so graag see toe gaan voor sy volgende besoek aan George.”

Teken

Klasmaats en kinders in Fouriestraat was in trane toe hulle hoor Juralthon is nie meer saam met hulle nie.

Babsie vertel verder: “Ek het die nag ná sy dood in die vroeë oggendure opgestaan en vir God gevra om my net ’n teken te gee waar my kind is.

“Daai môre, nog voor dagbreek, toe verskiet sy ster! Toe weet ek my kind is by God.”

Rochelle Reed, sy onnie, skryf: “My smiley-kind. Ek gaan jou veral soggens mis as jy kom inloer het. Dan verhelder daai gesiggie met daai smile net om vir Juffrou môre te sê.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters