2 maande gelede
Gegriefde DA-lid pak sy tas
tot siens: Melvin Naik (links) en Rassie de Villiers op sy afskeidsgeselligheid.Foto verskaf  ~ 

GEORGE. – ’n DA-lid van die stadsraad tree uit omdat hy nie meer kans sien om ’n lid van ’n politieke span te wees wat swak presteer nie.

Rassie de Villiers het dié griewe vervat in ’n brief aan die leierskorps van die party.

Son het ’n afskrif van die brief. De Villiers het bevestig hy het die brief geskryf, maar benadruk dit is ’n interne DA-brief.

Hy sê hy het die brief geskryf omdat hy diens­lewering wou verbeter en nie om die DA in ’n swak lig te stel nie.

In die brief kap De Villiers na onder andere die burgemeester, Melvin Naik. Hy skryf die prestasie van die George-munisipaliteit het die afgelope jaar gedaal.

Volgens hom is daar ’n gebrek aan leierskap. Hy voer aan Naik hou daarvan om as individu op te tree en nie as ’n lid van ’n span nie.

Ingesit

Daar is ’n hele aantal bekwame raadslede wie se talente glo nie ten volle benut word nie.

De Villiers skryf ook hy het verlede jaar ingesit by die keuringsproses vir ’n aanstelling in ’n senior pos. Hy beweer ’n senior munisipale amptenaar en ’n konsultant het die punte vir die aanstelling gemanipuleer.

Al het hy dit onder Naik se aandag gebring, het niks gebeur nie, skryf hy.

Die pos is nege maande later weer ge­adverteer.

In die brief bedank De Villiers die DA vir die geleentheid om ’n bydrae in George te kon maak.

In ’n munisipale verklaring noem Naik De Villiers “oom Rassie” en sê hy is baie passievol oor sy wyk. Hy kon teen druktyd nog nie vir nader

kommentaar bereik word nie.

Tertius Simmers, DA-sekretaris in die oosstreek, het gesê hy weet van ’n brief, maar weet nie wat daarin staan nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters