2 maande gelede
Foondief sommer nou ’n nommer
Flip September
MANG TOE: Flip September gaan lank sit vir selfoondiefstal.  ~ Foto ter illustrasie: NETWERK24

’N MAN (40) van Dysselsdorp wat ’n ou van sy selfoon beroof het, het sy lot gehoor.

Flip September is skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede en is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof tot agt jaar tronkstraf gevonnis.

Hy het Sebastiaan Willemse op 25 Februarie 2020 met ’n mes gedreig en van sy foon ter waarde van meer as R3 000 beroof.

Brandon Smith, die staatsaanklaer, het die hof vir ’n vonnis gevra wat ander voornemende selfoondiewe sal afskrik.

September is nie ’n eerste oortreder nie.

Kontrak

Streeklanddros Sylvia Mandla het by vonnisoplegging gesê dis ironies dat selfoondiewe mense van duur selfone beroof en dit dan vir ’n appel en ’n ei – en dikwels vir dwelms – verkoop.

Die foon se eienaar het ’n groot verlies gely omdat dit op ’n kontrak was en hy moes voortgaan om dit te betaal. Hy’t gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie.

Mandla het in ag geneem September is nie meer jonk nie en daar’s wel wesenlike en dwingende omstandighede voor die hof wat afwyking van die minimum vonnis van 15 jaar regverdig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters