2 maande gelede
Foon-foendie vat die spoor
Preston TitusFOTO Verskaf  ~ 

’N COP wat goed is met die ontleding van selfoonrekords het gister in die Preston Titus-saak getuig.

Die moordsaak word in die rondgaande hooggeregshof in Oudtshoorn aangehoor.

Preston, ’n soldaat, is op 2 Desember 2017 dood in sy kamer gekry. Die beskuldigdes is Justice Mooi, Magdaleen Titus (Preston se vrou), Natasha Stuurman en Masi­thembe “MJ” January.

AO Anna-Marie van Niekerk het haar getuienis begin deur die hoëprofielsake te noem waarin sy die afgelope 11 jaar getuig het en wat tot skuldigbevindings gelei het.

Sy is by die Titus-saak betrek op versoek van kapt. Deon Bouwers, ’n lid van die ondersoekspan.

Volgens haar word selfoonrekords dikwels van diensverskaffers aangevra om ’n beskuldigde met ’n misdaad te verbind.

Van Niekerk het toegegee dit kan ook iemand se onskuld bewys.

Die cop het getuig oor die foonkommunikasie wat van 1 November 2017 tot 1 Desember 2017 plaasgevind het tussen die vier beskuldigdes en Elvis Gale­boe, wat nie ’n verdagte is nie.

Sy het nie gesê waarom sy Galeboe se selfoonrekords ontleed het en waarom dit van belang is nie.

Volgens Van Niekerk was daar van 4 tot 28 November 2017 selfoonkontak tussen Magdaleen en Galeboe.

Die eerste kommunikasie tussen Magdaleen en Mooi in die maand ter sprake was op 16 November en die laaste op 1 Desember.

Tussen Magdaleen en Stuurman was daar van 3 November tot 1 Desember kontak, en tussen 1 November en 1 Desember 2017 het sy kontak gehad met die driver Sixabiso Klip.

Binne dié maand is 338 oproepe van Magdaleen se selfoon na dié van die medebeskuldigdes gemaak.

Van Niekerk het dit duidelik gestel die oproepe wat op iemand se selfoonrekord aangedui word, is nie noodwendig deur die eienaar van die toestel gemaak nie.

Sy het getuig baie van die oproepe en SMS’e is op 30 November en 1 Desember 2017 gemaak en gestuur.

Daar was die aand van die moord verskeie oproepe van Magdaleen se foon na Mooi, January en Klip.

Die rekords toon aan die oproepe vanaf haar selfoon is in die omgewing van die selfoonbasis by die Seppie Greeff-gebou in die middedorp gemaak na Mooi se selfoon. Sy selfoonrekord het aangedui hy was toe op die weermagbasis.

Bevestig

Die aand van die moord het Magdaleen en Klip mekaar ook verskeie kere ge-SMS. January was die betrokke aand saam met Stuurman in Beaufort-Wes.

Klip, wat ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het, was gisteroggend weer vlugtig in die hof.

Hy moes bevestig dis sy voor­letters en handtekening wat op ’n verklaring verskyn wat hy op 19 Januarie 2018 afgelê het.

Magdaleen is op dié einste dag in hegtenis geneem.

Regter Nolwazi Boqwana het die hofsaak verdaag tot vandag, wanneer Van Niekerk met haar getuienis sal voortgaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters