Verlede maand
Fees ontgin nuwe talent
Wenspan: PJ Davids (middel met grys baard) is trots op wat die organiseringskomitee vermag het.  ~ Clive Pretorius

HEIDELBERG. – Dié dorp se jaarlikse dramafees, die Goliath Davids/Hessequa-toneelfees, het weer dié jaar die lig gesien nadat dit verlede jaar deur die Covid-19-pandemie gekortwiek is.

Die fees het in 2016 onder leiding van oom Gollie, soos hy alombekend was, se twee seuns, Lloyd en Peter-John “PJ” Davids, afgeskop.

Annelene Hartnick is die hooforganiseerder.

Ondanks die feit dat die fees aan die streng Covid-regulasies moes voldoen, was die openingsaand se produksies weereens van ’n hoë gehalte.

PJ Davids het die feesgangers verwelkom, terwyl vader Chassley Fredericks dit met ’n gebed geseën het.

Fredericks het ook onder meer Adam Small se “Die Here Het Gaskommel” voorgedra om die fees se atmosfeer te stel.

Die bekende akteur, regisseur en toneelskrywer Peter Braaf en sy vrou, Sandy­, asook die akteur Wim Vorster tree weer as beoordelaars op en sal aan die einde van die week die moeilike besluite moet neem om die wenners in die verskeie kategorieë aan te wys.

Hartnick, voormalige onder­wyser en wyksraadslid, en self ’n groot kunsteliefhebber, het ook die openingsverrigtinge bygewoon.

Volgens PJ is daar dié jaar 15 groepe (120 deelnemers) nadat daar aanvanklik 26 inskrywings was.

Hy meen ten spyte van die daling in getalle sal dié jaar se aanbieding tog ’n reuse-sukses wees as die hoë standaard wat deur die twee openingsproduksies gestel is, in ag geneem word.

Die aand is met die plaaslike Hessequa-Abet-sentrum se produksie Kinners vani Twilight onder leiding van Marlon Davids, jongste broer van die akteur Christo Davids, begin.

Kritiek

Daarna het die tweeman-stuk Kain en Abel van Swellendam Senior­ Sekondêr ook die aanwesiges met hul vertonings in vervoering gehad.

Aiden October het die regie van laasgenoemde produksie behartig.

Beide produksies het redelik goeie kritiek van die beoordelaars gekry al is ’n paar swak punte uitgewys.

Al drie beoordelaars was egter baie beïndruk met die standaard van die produksies en die talent van die akteurs.

Hulle is vol vertroue dat die res van die week se produksies weer vele nuwe talent sal ontgin.

Aan die einde van die eerste aand se verrigtinge het PJ almal, hoe gering ook al hul bydrae was, vir hul deelname en ondersteuning van die fees bedank.

“Ons gaan seker nie so baie geld maak nie, maar ons gaan ons doel bereik, naamlik om die kunste te ontsluit.

“Dit is immers ons leuse: Unlocking The Arts.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters