2 maande gelede
Familielid verkrag my, sê ma
soek justice: ’n Mammie is glo deur ’n familielid verkrag. Foto: KEITH MEYER  ~ 

CALITZDORP. – Sy was nog houtgerus op pad Royal Heights toe, toe word sy naby digte riete van agter af platgeduik.

Met die omdraai moes sy sien dis ’n familielid.

Só vertel ’n jong mammie (27) van ’n 10-jarige meisie vreesbevange aan Son.

Sy vertel: “Daar by die digte riete het hy sy gemors met my aangevang. Dis nou my skoonsuster se man wat my gerape het.

“Ek skree nog: ‘Kan jy nie sien dis ek nie?’ Maar toe sleep hy my verder die riete in. Sommer aan my hare.

“Sy oë was wild in sy kop. Dit was groot en het gelyk asof dit stilstaan. Ek kan sweer hy was diep gedrug.”

Volgens die ma was dit asof sy gevries het. Sy het om hulp geskree, maar niemand het kom help nie.

Intussen het haar aanvaller op die vlug geslaan en is steeds soek.

Dikbek

“En nou sien ek nog daai hele prentjie voor my afspeel. Ek is so op my senuwees en slaap bitter sleg.

“Ek het geen berading gekry nie. En nou is van die familie dikbek omdat ek die saak gaan aangee het. Sy vrou praat glad nie met my nie.

“Ek het mos nie hiervoor gevra nie,” sug sy.

Die mammie beweer die verdagte het doodsdreigemente aan haar gestuur.

AO Chris Spies, ’n polisiewoordvoerder, sê: “Die klaer was op pad na ’n vriend toe sy oor ’n stuk veld gestap het.

“Die verdagte het haar van agter gegryp en haar na ’n beboste gebied gedwing en haar verkrag.”

Volgens Spies is daar nog geen arrestasie gedoen nie, maar alle leidrade word opgevolg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters