11 dae gelede
Familie, dorp in rou ná tragedie
Perswille Willemse  ~ Foto Verskaf

DYSSELSDORP. – “Toe ek die kleertjies van Jayden en Perswille op die damwal sien, het ek geweet my kind en sy nefie het verdrink.”

Dís die hartseer woorde van Roshelle Tika (50), Louis “Jayden” Tika (10) se verpletterde ma.

Die tragedie het die gemeenskap in rou gedompel nadat die drie maats, Jayden, Perswille Willemse (13) en Aidan August (9), by die dam gespeel het.

Roshelle sê Jayden het haar Sondagoggend gevra om by Perswille te gaan speel.

Die middag het die polisie by haar aangekom en gesê daar is ’n vermoede dat die twee nefies verdrink het omdat hul vriendjie Aidan hulp ontbied het nadat hulle in die dam geval het.

Volgens Aidan het hulle by die dam gaan speel. Hy vertel albei het in die dam geval.

Die seuntjie vertel hy het ’n tou in hul rigting gegooi om hulle uit te trek, maar hulle was reeds buite sy bereik.

Hy vertel verder: “Perswille en Jayden het probeer uitkom, maar kon nie omdat dit te glad was.

“Ek het gehardloop om hulp te soek en ’n oom wat my gekry het, het toe die polisie gebel.

“Ek gaan my maatjies mis.”

Volgens Perswille se ouma Katy Willemse (69) het haar kleinseun hom Sondag tussen 11:00 en 12:00 aangetrek nadat hy van sy ander ouma, Maria Prinsloo, by die huis gekom het.

“Maria Prinsloo het later saam met die polisie opgedaag en vertel wat gebeur het en gesê ons moet saamgaan.

“Perswille se Ma, Hildegard (32), wou nie saamgaan nie en was in ’n toestand.

“Ons het by die huis gewag op nuus. Lede van die gemeenskap en familie het by die dam gewag totdat die polisieduikers omstreeks 19:00 die twee nefies se lykies uit die water gehaal het.”

VERDWAAS: Die gemeenskap drom saam toe polisieduikers opdaag. Foto: Patrick Jackson

Enrique Petersen, die prinsipaal van Laerskool PJ Badenhorst, en Wilfred Reed van Laerskool St. Konrad, waar die twee onderskeidelik in gr. 5 en gr. 7 was, vertel dat beide seuns stil en pligsgetroue leerders was.

Leeg

Albei is dit eens dat die mannetjies ’n blink toekoms voor hulle gehad het.

Petersen sê hul skool is in rou en dat die leerder se plekkie baie leeg gaan wees.

Albei prinsipale het gereël vir berading vir hul klasmaats en vriende.

’n Maatskaplike werker en sielkundige het ook die skool besoek om berading aan die leerders te gee.

Kapt. Joey Strydom van die Dysselsdorp-polisie het die tragiese voorval bevestig.

Volgens Strydom is die dam uitgelê met waterdigte swart plastiek.

Hy sê: “Die twee seuns wou terug uit die dam, maar kon nie weer teen die plastiek uitkom nie. Die seun op die wal het gehardloop om hulp te gaan soek en by sy terugkoms was die ander twee al vermis.

“Die duikeenheid uit Knysna is ingeroep.”

Getref

Volgens Strydom sal ’n geregtelike nadoodse ondersoek gedoen word.

Begrafnisreëlings is nog nie getref nie. Die gemeenskap hou Donderdag van 14:30 by die dam ’n kransleggingsdiens vir die tweetjies.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters