Verlede jaar
Erge brande maak dit hel
groot werk: Inwoners voel jammer vir die brand­bestryders wat nie weet waar om te vat en waar om te los nie. Foto’s: DONOVAN RUITERS  ~ 

AG MENSE, onder wie ’n swanger vrou, is dood in die verwoestende brande wat in die Suid-Kaap heers.

Die oorledenes was vasgekeer deur vuurtonge wat hulle huise omsingel het.

In ’n verklaring wat uitgestuur is deur die George-munisipaliteit, is daar “oral brande”­.

Dit sluit in: Seven Passes, Waboomskraal, Fernridge, Blanco en Kraaibosch.

Voorts is brande ook aangemeld in Uniondale, Noll en Haarlem.

Die sterk westewinde maak dinge ook nie maklik vir die brand­bestryders nie.

orals: Brandbestryders swoeg voort om die brande te blus.

Gister is die Outeniqua- en Robinson-bergpas weer oopgestel vir verkeer terwyl die Montagu-pas nog gesluit was.

Dieselfde het ook gister nog gegeld vir die N2-deurpad wat gesluit was vir verkeer tussen die Tsitsikamma-tolhek en die Storms- rivierbrug.

Gister het inwoners gehoop die bietjie reën wat uitgesak het, kan brandbestryders help om die brande te blus.

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, het gister bevestig ses kinders onder die ouderdom van 12 en twee vroue het in die brande gesterf. Dit was by huise in Kara­tara.

Intussen is meer brand­bestryders reg oor die Wes-Kaap ontplooi om te kom help.

Bang

In Rheenendal net buite Knysna is families wat op hoewes woon, ontruim en na veiligheid geneem omdat die vuur ál nader aan hulle huise gekom het.

uitgebrand: Die foto is geneem in die gebied waar mense doodgebrand het.

Deline Schepper (52) van Rheenendal sê: “Ons is baie bang en het gehoor van die mense wat al doodgebrand het. Die vuur is baie sterk en beweeg vinniger as ’n trein op jou af.

“Ek kry die arme brandweermanne baie jammer.”

Sy beskryf haar dorpie tans as ’n oorlogsgebied, met alles wat afgebrand het.

Sam Daniels (54) van Blanco vertel hy het onmiddellik van die werk af huis toe gegaan toe hy hoor van die brande.

Daniels sê: “Daai vuur vernietig eiendomme binne sekondes.

“Elektriese pale en bome is als daarmee heen.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters