10 dae gelede
End van saak is in sig
KAP ZIP: Ronvigon Wildeman gaan nie in sy eie verdediging getuig nie.  ~ Garnett Wicomb

DIE beserings wat die 18 maande oue Vagon Cornelius opgedoen het, het sy klein breintjie totaal verwoes.

Só het die spesialis- forensiese patoloog dr. Christa Hattingh gister in die rondgaande hooggeregshof in Oudtshoorn getuig.

Vagon se pa, Ronvigon Wildeman, is aangekla van sy moord, kwaadwil­lige saakbeskadiging en die oortreding van ’n beskermingsbevel, alternatiewelik aanranding.

Hattingh het in haar getuienis ge­reageer op ’n vraag van regter Mushtak Parker. Dié wou weet of die kind se brein heeltemal vernietig was as gevolg van die klip van 18 kg wat sy pa na bewering twee keer op sy kop laat val het.

Motorongeluk

Adv. Lenro Bredenkamp, die staatsaanklaer, het gevra of die kind enige kans gehad het om te oorleef nadat hy die beserings opgedoen het. Die patoloog het nee geantwoord.

Hattingh het voorts getuig die slagoffer het nie enige ander beserings aan sy liggaam gehad nie en dat “blunt force” sy dood veroorsaak het.

Volgens haar was die beserings soos dié wat iemand in ’n motorongeluk opdoen.

Die kind se ma, Merilen Cornelius, het getuig die klip se geluid het soos ’n geweerskoot geklink.

Hattingh het getuig dat dit nie die houe teen die kind se kop kon gewees het nie, maar wel toe die klip, nadat dit die kind teen sy kop getref het, dalk op ’n ander klip geval het.

Nadat Hattingh getuig het en kruisondervra is, het die staat en die verdediging hul saak gesluit. Die saak is tot vandag uitgestel vir slotbetoë.

Wildeman het aanvanklik skuld erken op die klagte dat hy ’n beskermingsbevel oortree het, alternatiewelik aanranding, en kwaadwillige saakbeskadiging.

Hy het skuld ontken op die klag van moord.

Nadat Parker Wildeman se pleitverduideliking gelees het, het hy ’n pleit van onskuldig op ál die klagte aangeteken.

Volgens Wildeman het hy die klip na die kind se ma gegooi, maar hy moes voorsien het dat hy die kind kon beseer.

Adv. Leandra Adams, Wildeman se regsverteenwoordiger, het die hof meegedeel dat hy besluit het om nie te getuig nie en dat hy nie enige getuies wil roep nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters