6 dae gelede
‘Druggie dropout lem oom in rolstoel’
Monde Sigabi is in sy rolstoel doodgesteek.  ~ Foto ter illustrasie

MOSSELBAAI. – Inwoners wil hê ’n tikkop-tiener moet tronk toe gepos word nadat hy na bewering sy gestremde oom in ’n stryery oor R10 gelem het.

Monde Sigabi het Dinsdag in Asla Park in sy agterkamertjie in sy rolstoel gesit en Bybel lees toe sy 16-jarige nefie hom na bewering aangeval het.

Sigabi is met ’n broodmes in sy kop en arm gesteek.

Voor dit het die 16-jarige hom na bewering in die gesig geslaan.

Inwoners is diep die hel in oor die voorval en dring daarop aan dat die seun se familie die voorval by die polisie aanmeld. Hulle eis dat die seun die gebied verlaat of toegekap word.

Kwaad

Sigabi (58) ontvang tans hospitaalbehandeling.

Volgens hom het dinge handuit geruk toe die seun R10 by hom gesoek het.

“Hy wou vir hom brood koop. Toe ek sê ek het nie geld nie, het hy kwaad geraak en my begin aanrand.

“Ek het probeer om vanuit my rolstoel terug te veg, maar hy is toe die huis in en het met ’n broodmes teruggekeer,” het Sigabi vertel.

Hy het gesê sedert sy nefie die skool verlaat en met dwelms deurmekaar geraak het, is hy ’n probleem.

“Sodra ek beter is, moet die polisie hom arresteer, want ek soek hom nie meer by my huis nie,” het Sigabi gesê.

Noma-India Nzuzo, ’n familielid, het gesê die seun is nou vir hulle ’n probleem.

Kopseer

“Hy het nou die skool gelos en wil nie vir ons luister nie.

“Hy is nog skoolgaande ouderdom en ons het met hom gepraat, maar hy het vriende wat by dwelms betrokke is.

“Die voorval het plaasgevind toe niemand anders tuis was nie,” het Nzuzo gesê.

Charmaine Stuurman, ’n gemeenskapswerker, sê dwelms is ’n groot kopseer in hul gemeenskap.

“Ons as gemeenskap is baie bekommerd, want die dwelms maak dat kinders nie na hul ouers luister nie. Ons sal dié kwessie met wetstoepassingseenhede moet bespreek.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters