9 dae gelede
Drie hoor later lot oor houe, huisbraak
Drie vermeende huisrowers sal later hul lot hoor.  ~ Foto Verskaf

OUDTSHOORN. – Die saak teen drie verdagtes wat aangekla is van huisbraak en aanranding om ernstig te beseer, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak uitgestel.

Denise Pieterse, Jacobus Frans en Darryll Jansen van Calitzdorp het na bewering op 23 Januarie 2016 Jan Mei se huisdeur op die plaas Besemkop oopgebreek.

Hulle het Andrew Wagenaar glo met ’n mes gesteek, met ’n bierbottel oor sy kop geslaan en met ’n klip gegooi.

Al drie pleit onskuldig.

Wagenaar het verlede week getuig hy het die betrokke dag saam met Mei en nog twee mans TV gekyk toe Jansen, Mei se seun, die huisdeur oopgetrap het.

Volgens hom het Jansen en Frans hom sonder rede begin slaan. Frans het hom glo met ’n mes onder sy linkeroog gesteek.

Dronk

Pieterse het hom na bewering met ’n bierbottel oor sy kop geslaan. Volgens hom het sy die vorige naweek met sy pa baklei wie se arm gebreek is. Mei het onder kruisverhoor ontken hy het ’n mes gehad en dat Frans dit by hom afgevat het.

Teslynne Meiring, Mei se saamleefmaat, het getuig dat sy besig was om vis te bak toe Jansen en Frans die huis se deur oopgetrap het.

Volgens haar was sy nie dronk nie. Sy is wel wyn gegee, maar het gemaak of sy drink en het die wyn dan onder die tafel uitgegooi.

Sy het ook getuig dat Pieterse vir Wagenaar met ’n klip gegooi het.

Aandag

Volgens Pieterse het sy nie saam met haar medebeskuldigdes by die huis aangekom nie, maar ’n rukkie later. Volgens haar het sy tussenbeide getree en later die bloed van Wagenaar se gesig afgewas met ’n waslap wat sy by Meiring gevra het.

Sy sê sy het ’n klein klippie na Wagenaar gegooi “om sy aandag te trek” en volgens haar was almal dronk.

Die saak is tot 18 November vir uitspraak uitgestel.

Pieterse en Frans is op borgtog, terwyl Jansen in aanhouding bly.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters