2 maande gelede
Draadkar-ou droom groot
BIELIE: Sydwill Laban geniet hom gate uit in die draadkar.  ~ Keith Meyer

CALITZDORP. – Dis net die regte Krismisboks van die “draadkar-ingenieur”.

Só beskryf mense vir Johnny Volkwyn, wat hier met draad reggekry het wat net mense in fabrieke met moderne tools kan regkry.

Volkwyn het ’n “trekker en tiller” gebou wat enige kinderhartjie vir Krismis sal laat warm klop.

Afvalmateriaal

Die trekker weeg etlike kilo’s en kan selfs ’n gr. 4- leerder met gemak vervoer.

Johnnyboy, soos die gemeenskap Volkwyn noem, vertel trots: “Ek bou maar met opteldraad, want ek het nie geld om aan te koop nie.

“Met my draad en my tang en afvalmateriaal het ek sowat vier maande gespook om my eerste trekker klaar te maak.”

Sydwill Laban, ’n laerskoolleerder, het die trekker se deur oopgemaak, ingeklim en van sy maats het die swaar trekker en tiller gestoot. ’n Tiller skrop die grond om.

Johnnyboy voeg by: “Mense wat byvoorbeeld groot jaarts het en wil groente plant, kan hierdie trekker gebruik sodat die tiller die grond kan skraap en gereed maak vir plant as daar die gewig van ’n kind in is. Daarom wil ek so tussen R1 000 en R3 000 vir hom hê. Onthou, jy moet met ’n bakkie kom as jy dit wil koop.

Bemark

“Dit gaan nie in ’n kar se boot pas nie en die bakkie se kap moet af wees!”

Hy wil graag nog vier bou as hy net draad kan kry.

Hy sê dis sy groot droom om sy trekkers te bemark.

Iemand wat vir Vader Krismis ’n briefie wil stuur en ernstig is om dié voertuig te shop, kan ’n WhatsApp na 061 147 3721 stuur.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters