3 maande gelede
Donker wolk van reën en swaarkry
worry: Daylene Timmie sit moedverlore voor haar hokkie. Foto’s: KEITH MEYER  ~ 

WINTER is nie armoede se vriend nie.

Vir die seisoenwerkers van Kannaland bring dit nie net koue in hulle hokkies in nie, maar ook erge gepaardgaande armoede.

In die Valentynsplakkerskamp was mans oral besig om aan hokkies te timmer.

Jan de Wee sê: “As die reën nou kom, lek die hokke weer dat die komberse sopnat raak. As ons nie nóú dig maak nie, raak die hokkies onbewoonbaar.”

Daylene Timmie kla: “Ons het nie eens iets ordentliks vir die pot nie. Die hout bly ook papnat en ons probeer kosmaak op die oop vuur.”

Andrew Timmie, wat ook kos oor die oop vuur maak, voeg by: “Dit gaan bitter. Ek wens net daar kan darem kospakkies uitgedeel word. Al is dit net vir die winter.”

Timmie sê sodra die seisoenwerk opdroog, is dit ’n gesukkel om liggaam en siel aan mekaar te hou.

’n Jong mammie het skaam-skaam by Son kom aanklop vir kos, want daar is niks vir haar oor nie.

Volgens ’n onnie wat nie haar naam genoem wil hê nie, word die skole se voedingskema oorval met kinders wat soggens toustaan vir kos.

Die onderwyseres sê: “Dis maklik hulle enigste maaltyd vir die dag.”

Ramona Nortjé, ’n maatskaplike werker van Sassa, sê: “Ons neem aansoeke vir maatskaplike noodhulp. Dit is kospakkies wat deur Sassa uitgedeel word.

“Indien jy van gevalle weet, kan jy die gevalle na ons kantoor verwys. Dit is ongelukkig nie ’n langtermyn­oplossing nie, maar dit bring darem bietjie verligting.”

Sassa kan net kospakkies verskaf aan behoeftiges wat tydig aansoek gedoen het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters