19 dae gelede
Dogter se klag teen pa ruk ma
Kapt. Malcolm Pojie  ~ 

CALITZDORP. – ’n Ma (42) van Royal Heights is in twee geskeur ná ’n bewering van haar dogter (23) dat haar pa haar “as vrou wou aanhou”.

By Son se besoek was die ma in trane hieroor.

Sy vertel hartseer: “My man is hardwerkend en lief vir sy sewe kinders.

“Sy en haar kêrel wil hier in die huis kom leef soos man en vrou.

“Die probleem het gekom toe hy met haar daaroor gepraat het.

“Toe my man begin skel omdat hulle nie respek het vir ons nie, toe versprei sy die storie dat hy by haar aangelê het vir seks.

“Sy het selfs gesê hy wou ’n selfoon in haar opdruk.”

Volgens die ma het sy haar dogter sommer reguit gevra waarom sy so iets sou aanvang.

Sy het haar dié vraag gevra toe die polisie daar stilhou om haar man te kom haal.

“Toe ek by die daghospitaal was, hoor ek hulle het my dogter na die Oudtshoorn-hospitaal geneem.

“My man moes toe weer ’n verklaring by die polisie gaan maak.

“Ek het hom gevra of dit waar is, waarop hy gesweer het: ‘Ek het nie my hande aan haar gesit nie.’

“Maar ons kind hou vol: ‘Pappa het gedink ek was dronk.’ ”

Die dogter wou nie self oor die voorval praat nie.

Die ma het intussen haar dogter uit die huis gesit.

Sy kla: “Ons sit nou sonder kos en my man se naam is verniel.”

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê Oudtshoorn se eenheid gemoeid met gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings ondersoek die saak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters