Verlede maand
Dogter bloei voor ma dood ná steek in nek
SOEK ANTWOORDE: Petronella “Ant Sussie” is tans baie hartseer ná haar dogter se moord.  ~ Keith Meyer

LADISMITH. – “Bel maar die lykswa. Sy gaan maar sterf.”

Dít is die woorde van die vermeende moordenaar van Petronella “Ant Sussie” de Waal se pragkind Elouise (34) wat soos ’n dolk verder in haar moederhart gesteek is.

Ant Sussie vertel: “Haar man het haar erg abuse. Hy het haar daai aand hier weggelok. Toe, 03:00 in die nag, hoor ek hoe sy na my roep: ‘Mamma! Help! Hy het my gesteek.’

“Toe ek die deur oopmaak, toe borrel die bloed by haar nek uit. Ribbie, haar hond, het bo-oor haar gewaak en selfs nie die ambulansmanne kon naby haar kom nie.

“Ellie se hond was haar tweede kind. Ek druk toe ’n kombers in die gat en gaan soek hulp.”

Volgens Ant Sussie was Ellie só lief vir haar man, sy sou hom nooit los nie.

“Toe sy daar op die grond lê, toe kom hy nog ewe verwaand in die yard in. Hy sê toe ek kan maar die lykswa bel, sy gaan tog dood.”

Chantel, Ellie se suster, vertel verder: “Hy het daai aand nie eens berou getoon nie.

Verdagte

“Net kom onbeskof en verwaand wees. Ellie se seun, Wayden, het toe vir hom gevra: ‘Pappa, hoekom doen jy dit aan Mamma?’ Hy het gesien hoe sy doodbloei.”

Volgens die familie het die verdagte ook Ellie se vorige kêrel, Warren, Wayden se pa, aangerand dat hy hospitaal toe moes gaan.

“Ellie was só lief vir hom dat sy hom uit die tronk gehou het. Hy is nog op buitestraf vir die saak,” sê Chantel.

Christopher Opperman, Ant Sussie se buurman, verduidelik: “Drugs het hier ’n groot rol gespeel. Die uur het geslaan dat die gemeenskap opstaan teen die drug-huise.”

Chris Spies, polisiewoordvoerder, sê: “Speurders ondersoek ’n klag van moord nadat die slagoffer met ’n steekwond in die nek aangetref is. ’n Verdagte van 30 jaar oud is gearresteer en sal in die hof verskyn op ’n klag van moord.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters