2 maande gelede
DKD-beamptes help leerders met skoolklere
blye harte: Leerders van Aurial Kollege tel onder dié wat skoolklere van die Oudtshoorn DKD ontvang het. Hier is hulle saam met van die lede.Foto: GARNETT WICOMB  ~ 

DIE personeel van Oudtshoorn se departement van korrektiewe dienste het as deel van hul uitreikprogram by verskeie skole in Oudtshoorn en die distrik skoolklere uitgedeel aan leerders wat dit benodig.

Volgens die koördineerder van die projek, Norman Lodewyk, is dit ’n inisiatief van die Suid-Kaapse area- kommissaris van die (DKD), Ndileka Booi.

Elke personeellid het hand in die sak gesteek vir ’n bydrae om die klere aan te koop.

“Dit is vrywillig, maar elke lid dra by,” sê Lodewyk.

Jeugforum

Vanjaar is skoolklere aan 145 leerders van onder meer die Aurial Kol­lege, Colridge, Bergsig, Bongolethu­, Rooiheuwel, Vergelegen, Dysselsdorp, PJ Badenhorst, St. Konrad en De Jager (Buffelsdrift) primêre skole én die sekondêre skole Fezekile en Dysselsdorp oorhandig.

Daar is ook ’n aantal behoeftige kinders gehelp wat deur die projek­bestuurder van die Oudtshoorn Christelike Jeug­forum (OCJF), Phillip Seroux, aangewys is.

Volgens Phillip Busch, die hoof van Oudtshoorn DKD, is daar vanjaar besluit om baie meer skole te betrek. Ander staatsinstellings is ook genader om betrokke te raak.

Die personeel van die Oudtshoorn DKD het einde verlede jaar ook sowat 200 senior burgers op ’n Kersmaal trakteer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters