9 dae gelede
’Dit was geen ongeluk dié’
LOOP HOF: Ronvigon Wildeman van Haarlem is in die beskuldigdebank.  ~ Garnett Wicomb

OUDTSHOORN. – Dit kan nie ’n ongeluk wees as jy ’n groot en swaar klip met ’n gewig van meer as 18 kg bokant jou kop optel en dit op die kop van jou kind van 18 maande laat val – en dit daarna ’n tweede keer doen nie.

Só het adv. Lenro Badenhorst, die staatsaanklaer, gister in sy betoog in die saak teen Ronvigon Wildeman van Haarlem gesê.

Badenhorst het die hof gevra vir ’n skuldig­bevinding aan beplande moord, asook op die twee ander aanklagte – die oortreding van ’n beskermingsbevel, alternatiewelik aanranding, en kwaadwillige saakbeskadiging.

Wildeman het aanvanklik skuldig gepleit op die eerste twee klagte en onskuldig op die klag van moord.

Regter Mushtak Parker het egter ’n pleit van onskuldig op ál die klagte aange­teken.

Volgens Wildeman het hy die klip na die kind se ma, Merilen Hetta Cornelius, gegooi toe dit per ongeluk op sy seuntjie, Vagon Cornelius, geval het.

Volgens Badenhorst is dit feitlik onmoontlik om so ’n swaar klip 5 m ver te gooi. Dít is die afstand wat Hetta, volgens haar getuienis, van hom af gestaan het.

Wat sy saak vererger, is dat daar getuienis was dat Wildeman net voor dit aan haar gesê het “kyk hoe spite ek jou nou” en daarna “kyk wat het ek nou aan ons kind gedoen”.

Hetta se woorde aan hom was: “Kyk wat het jy nou gedoen. Ek wil my kind reg hê.”

Vagon Cornelius

Die afleiding wat dus volgens die staat gemaak kan word, is dat die beskuldigde besluit het om die klip op die seuntjie se kop te gooi en hom dood te maak.

Nadat hy volgens die staat die kind opgetel en na sy ma gegooi het, het hy weggehardloop en aan twee getuies, Joslyn Delport en sers. Nicholas Simkin, gesê dat hy sy kind doodgemaak het – al het die kind nog geleef toe hy van die toneel weggehardloop het.

“Indien dit ’n ongeluk was, is die vraag waarom die beskuldigde nie verskoning gevra het vir wat hy gedoen het nie,” het Badenhorst verder betoog.

Die staat het die hof toe gevra om te bevind die getuienis van Hetta, asook dié van die ander staatsgetuies, Shivago Groenes, Hester Engelbrecht, Delport en Simkin, is betroubaar.

Parker het ná die staat se betoë vir Wildeman se regsverteenwoordiger, adv. Leandra Adams, gevra hoeveel tyd sy in die lig van die staat se betoog nodig het om hare voor te berei omdat dit nie so ’n eenvoudige saak is nie.

Die saak is daarna verdaag tot vandag om 11:30.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters